Die Pos 28 Februarie 2014 by Die Pos koerant/newspaper - issuuissuu louboutins te koop


louboutins te koop

Christian Louboutin
louboutins en oferta
安いルブタンの靴
fir louboutin
louboutins zapatos


huiskok

Tag Archives: piesangs

Piesangbrood vir ontbyt, teetyd en die kosblik

22 Oct

Ek onthou die keer wat ek die eerste keer gehoor het wat ‘n gros is. Toe ek nog ‘n laerskoolkind was het my pa Victor Saterdagoggende na die Epping-mark toe gegaan om te gaan vrugte en groente koop. Pa kom toe een Saterdag huis toe met ‘n krat vol piesangs. ‘n Gros. Ja 144 piesangs. Toe al klaar ietwat ryp.

Ek bak gou piesangbrood om saam te vat vergadering toe.

Ek bak gou piesangbrood om saam te vat vergadering toe.

Ons het aan banana-splits gesmul, ons het piesang op brood gesit met kaneel bo-oor en in die oond gerooster, Ma het kerriepiesangs gemaak, piesangs saam met die bobotie, piesangmoes in pannekoeke opgerol, piesangs oor die Weetbix, piesangs in poffertjies met kaneelsuiker oor. Piesangs skool toe in die kosblik. My skooltas het vir lank nog die piesangreuk gedra.  Natuurlik is daar piesangbrood gebak vir ‘n vale. Dit was voor die dae van die groot vrieskaste, so Ma het vir almal uitgedeel, die bure, die posman, die kuiergaste, en sommer vir die vriendelike afleweringsman van Kolly’s Apteek ook.

Die aangename geur van piesangbrood wat bak, vat my altyd reguit terug na Ma se kombuis met sy seegroen kaste en die stoof wat daarby pas. Sy het die resep uit die kop gemeng – met 144 piesangs om te verwerk kon sy in elk geval dit geblinddoek maak. Ek weer het ‘n resep nodig, en elke keer was dit ‘n boekdeurblaaiery om een te kry. Hierdie een hou ek nou voor in my Kook en Geniet vir die dag wat die piesangs in die vrugtemandjie te ryp word vir netso eet. As ek sjokolade in die huis het, word dit grofgekap bygemeng, sodat die stukkies sjokolade die piesangbrood bietjie optof.  Vir ekstra tekstuur strooi ek bruinsuiker bo-op voor ek dit bak – dit gee net ‘n ekstra bakkers-finesse aan die piesangbrood. Jy kan ook die derde piesang growwer fyndruk, vir ekstra tekstuur aan die piesangbrood. *

Piesangbrood is nie iets wat ons oumagrootjies sou maak nie. Die koekbrood soos ons dit vandag ken het eers in die 1930’s werklik gewild begin raak, deel van ‘n genre van vinnige meelmengsels wat deur die kommersiele beskikbaarheid van rysmiddels soos bakpoeier aangegryp is deur huisvrouens.Skielik was dit nie meer nodig om in te suur nie – vandaar die term vinnigebroodjies. Ek spoor wel ‘n resep vir Piesangkoek op in Mev van Tulleken se kookboek van 1923, wat met die roommetode gemaak word en versuikerde skil inkry. Ook nie Hildagonda Duckitt se boeke het ‘n resep vir ‘n piesangbrood nie. Vroeg in die 20ste eeu is piesangs ook merendeels net gebruik om bo-op koeke te sit.

Vir hierdie piesangbroodjie het ek heelwat okkerneute ingesit, bruinsuiker in die beslag en bo-op gestrooi en met konfyt vir ontbyt bedien.

Vir hierdie piesangbroodjie het ek heelwat okkerneute ingesit, bruinsuiker in die beslag en bo-op gestrooi en met konfyt vir ontbyt bedien.

Maak piesangs so gouer ryp: Hoe gemaak as die lus jou oorval en die piesangs in die vrugtebak loer vir jou met hul jong, groengeel skille aan – nie ‘n bruin kol in sig nie? Alhoewel almal dit maak met oorryp piesangs, is dit eintlik ‘n gebruik wat uit spaarsamigheid ontstaan het om vermorsing te voorkom. Dit is nie noodsaaklik vir piesangs om so ryp te wees nie. Dis wel makliker om fyn te maak, maar solank die piesang nie groen is nie, behoort jy goeie resultate met ‘n geelskil piesang te kry. As jy wel verkies, kan jy die piesangs op hierdie maniere vinniger ryp maak.:

  •  Plaas piesangs in ‘n bruinpapier- of plastiek sak saam met ‘n ongeskilde tamatie, appel of peer. Die gasse wat vrygestel word laat die piesangs gouer ryp raak – dit sal 24 uur neem.
  • Kan nie eers 24 uur wag nie? Pak die onryp piesangs op ‘n gevoerde bakplaat uit met genoeg spasie tussenin. Bak sowat 40 minute teen 150°C. Die skille sal heeltemal verkleur, maar die binnekant sal lekker sag en geurig wees.

Ekstra smaakskop en streusel:

  • As jy wil kan jy ekstra geur aan die brood gee met smaakmiddels soos kaneel, gemmer, vanielje- of amandelgeursel; okkerneute of pekanneute en selfs sultanas. Ek hou van die smaak van donker sjokolade saam met die piesang.
  • ‘n Ander nuutjie is om piesangbrood ‘n streusel bo-kors te gee: ¼ koppie meel, 1/3 koppie ligte bruinsuiker (saamgedruk)

Maak dan so: meng die meel en die bruinsuiker, Sny die botter in by die meel tot dit soos growwe broodkrummels lyk. Roer die neute by en strooi oor die beslag in die pan voor dit gebak word. 1/3 koppie fyngekapte neute en kaneel. 30 ml koue botter in blokkies,

Pronto-pronto piesangbrood met sjokolade-stukkies  

Hoekom ek dit pronto-pronto noem? Die mengmetode is die vinnigste en maklikste van enige wat ek al gemaak het. Natuurlik vat hierdie vinnige broodjies steeds hul tyd in die oond. Hierdie koekbrood het ‘n pragtige tekstuur en piesangsmaak.

Bestanddele

  •  100 g sagte botter
  • 175g strooisuiker
  • 2 groot eiers
  • 2-3 ryp piesangs (fyngemaak)*
  • 225 g bruismeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 2 E melk
  • 100 g donkersjokolade, grofgekap
  • Bruinsuiker om oor te strooi.

Metode

  •  Voorverhit die oond tot 180C. Smeer ‘n broodpannetjie liggies uit en voer uit met bakpapier.
  •  Meet al die bestanddele af direk in die mengbak (buiten die sjokoladeblokkies) en klits vir 2 minute tot goed gemeng. Vou die sjokolade stukkies in.
  •  Skep in die voorbereide pan, maak die bokant van die beslag gelyk, strooi bruinsuiker oor en bak in die voorverhitte oond vir 1 uur tot goed uitgerys, gaar en goudbruin. Die beslag sal ‘n kraak bo-op maak, wat deel van die karakter van piesangbrood is.
  • Laat 5 minute in die pan afkoel, lig uit en plaas op afkoelrak. Sit die ketel aan en geniet snye ongebotter met koffie of tee.

Hummingbird koek laat jou hmmmmm

4 Oct

Ek het in die goue era van grootkoeke grootgeword.  My bakvaardighede sal my nie ‘n VLV-roset ooit laat verdien nie, maar ek het die vermoë om ‘n koek te kan ‘spot’ wat met sekerheid groot lekkerte gaan waarborg. Dan maak ek ‘n dag daarvan en lok gewoonlik vir my man Ian om saam te bak.  (In die geval van hierdie koek het ek my vriendin Annamie genooi – ingespan eerder – om die klitswerk te doen. Ian het help blomme maak en panne gesmeer).

Die Hummingbird Koek laat almal mmmmm wat dit eet.

Die Hummingbird Koek laat almal mmmmm wat dit eet.

My koekversiervaardighede is soos my naaldwerk en breiwerk – knit one slip one. Daarom hou ek van die nuwe neiging van meer minimalistiese, ‘naakte’ koeke met hul ontspanne versiering.

Die Hummingbird koek is 'n spesiale okkasiekoe, soos wanneer my Ma Inez kom kuier. Sy reken dis die mooiste koek wat sy nog gesien het - sy is net te beskeie wat sy het die mooiste koeke gebak op haar dag.

Die Hummingbird koek is ‘n spesiale okkasiekoek, soos wanneer my Ma Inez kom kuier. Sy reken dis die mooiste koek wat sy nog gesien het – sy is net te beskeie want sy het die mooiste koeke gebak op haar dag.

‘n Koek wat al hierdie dinge bymekaar bring: my herinneringe van die basaar-koeke wat my VLV-ma kon bak; indrukwekkende versiering en ‘n aanvaarbare moeilikheidsgraad is die Hummingbird-koek.  Solank jy drie koekpanne het van dieselfde grootte, en ‘n paar pynappels om die lieflike oondgedroogte madeliefies te maak wat bo-op die koek kom is die saak reg. Dan soek jy net ‘n koekstaander om hierdie skepping te laat uittroon bo die cupcakes wat grootkoeke se kollig probeer steel.

Wat is ‘n Hummingbird-koek?

Die klam, neuterige koek uit die Diep Suide van Amerika (proe na ‘n verlangse niggie van die wortelkoek) se besonderse smaak kom van die pekanneute, pynappel, piesang en ‘n skeppie kaneel. Dit word versier met ‘n roomkaasversiersel.

Daar is verskeie teorieë oor die naam: sommige beweer dit kom van die hmmmm-geluide wat eters maak; terwyl ander meen die hoofbestanddele is alles waarvan die hummingbird, of te wel kolibri hou. Dit word ook Jamaika-koek genoem. Die kolibri is die nasionale voël van Jamaika, waar soortgelyke speserykoeke met tropiese vrugte, genaamd Doctor Bird-koeke gewild is.

aaaa koek van bo af kleur skerp blog BLOG RESIZE

Madeliefie-pynappelblomme

My ma het altyd al wat blom wat sy geskenk gekry het gedroog; of sy het dit tussen boekblaaie gepers en prentjies of groetekaartjies daarmee gemaak. Die meer gehardes soos proteas en fynbos het sy lank na hul ‘oorlye’ nog in groot blompotte aangehou. Ek het nie van die droe”-rangskikkings gehou nie, maar sy het vasgeskep en wou niks weggooi wat haar soveel vreugde gegee het ‘in lewe’ nie.  Hierdie gedroogte pynappelblommetjies het my laat dink aan die fyn blommetjies wat ek altyd iewers in haar Gesangeboek  opgespoor het.

Moenie die kans laat verbygaan om die gedroogte ‘blommetjies’ te maak nie – jy en jou koek sal ‘the talk of the town’ wees. Natuurlik is die blommetjies nie my idee nie – dis ‘n ou truuk van kampioen-koekmooimakers. My wenk is om dit liefs die vorige dag te maak, sodat dit baie goed uitdroog voor jy jou koek wil mooimaak.

So maak jy die pynappel-madeliefies: Skil 1 groot pynappel of 2 kleintjies en verwyder die ogies met ‘n spanspek-‘baller’ of skerp messie. Sny in baie dun snytjies. Voer 2 bakplate met bakpapier uit, plaas die skyfies pynappel daarop en droog dit in ‘n oond teen 110°C uit. Draai versigtig om na sowat 40 minute in die oond. Oppas dat dit nie te bruin raak nie, maar ‘n paar puntjies hier en daar is nie ‘n problem nie.  Om die blommetjies ‘n mooi vorm te gee, plaas dit in klein muffinpannetjies as dit uit die oond kom. As die pynappelblomme te klein is, gebruik eierkelkies of iets soortgelyk om dit in neer te sit.

Nog wenke: kies pynappels wat ferm is en nie te ryp nie. Vir verskillende grootte blommetjies gebruik 1 groot pynappel en 1 kleiner pynappel.

Die madeliefies maak die koek!

Die madeliefies maak die koek!

Hummingbirdkoek

Bestanddele

Koek:

3 groot eiers

2 k suiker

¾ k sonneblom- of canolaolie

1 ½ t vanielje-ekstrak

3 k koekmeel

1 t koeksoda

½ t sout

1 ½ t kaneel (ek voeg ook mespuntjie fyn naeltjies en raspertjie neutmuskaat by)

1 blik ingemaakte fyn pynappel, sap ingesluit

6 ryp piesangs, fyngemaak *kyk wenk

1 k grofgekapte pekanneute

Roomkaas-versiersel

110 g sagte botter

2 houers roomkaas, kamertemperatuur

1 t vanielje-ekstrak

4-5 koppies versiersuiker (strooisuiker kan werk net as dit baie fyn poeier is – ek maak dit in versapper fyn)

Metode:

Voorverhit oond tot 180°C. Smeer drie 23 cm-koekpanne en voer die bodems met bakpapier uit. Klits die eiers en suiker tot lig en romerig. Voeg die olie in ‘n straaltjie by terwyl jy aanhou klits. Klits die vanielje by tot die beslag glad en romerig is. In ‘n aparte bakkie sif die meel, koeksoda, sout en kaneel saam. Klop die droë bestanddele, ‘n derde op ‘n slag, by die geroomde mengsel, elke keer net genoeg om dit goed te meng. Voeg  fyn pynappel en sap, piesang en neute by en roer by. Verdeel die beslag tussen die drie panne. Bak 20-25 minute in voorverhitte oond tot gaar (‘n toetspen sal skoon uitkom en die koek trek weg van die pan af). Haal uit die oond en laat heeltemal afkoel in die panne.

*As jou piesangs nie lekker goed ryp is nie, kan jy dit sowat 10 minute in ‘n warm oond (180C) met skil en al bak tot die skilletjies swart is en die binnekant papperig. Dit verbeter die smaak en maak dit maklik om die piesang fyn te maak.

Versiersel:

Room botter en roomkaas tot baie glad en romerig, voeg vanielje by en meng goed in. Voeg suiker koppie vir koppie by en klits baie goed na elke byvoeging. As die mengsel te slap is om die koek te versier, sit dit ‘n rukkie in die yskas.

Om te versier: Plaas die eerste laag op die koekbord met die bakpapierkant na bo. Verwyder die papier en smeer met 1 koppie versiersel; herhaal met die volgende lae. Rond af met gedroogte pynappelblomme (of gekapte pekanneute as jy nie by die blommemaak uitgekom het nie).

Errieda du Toit is ‘n kosskrywer, die RSG-Huiskok en inhoudsvervaardiger van Kokkedoor. Kyk uit vir haar maandelikse rubrieke in Die Burger, Beeld en Sarie Kos.

Eet jou koekstruif eerste

23 Nov

Dis tyd dat trifle sy soet sandaaltjies uitskop en die stoute skoene aantrek …. sommer haai-polfaai Louboutins.  

Hoekom ek my trifle eerste eet. Foto uit die hoofstuk ‘Aarbeie doen ‘n somerdans’ uit Huiskok Glanskok deur Samarie Smith

Ek is lus om vanjaar se Kersete af te skaf en net een gang te bedien. Poeding. En nie sommer net so ‘n poeding nie, maar ‘n hele tafel vol koekstruif (is die meervoud koekstruiwe?) Maar hoekom wag vir Kersfees? Ek vervang sommer my verjaarsdagkoek volgende week met ‘n très chic koekstruif.

Trifle (die woord koekstruif hak bietjie aan die tong vas) is ongelukkig ‘n seisoenpoeding wat selde buite die Kersseisoen op die tafel verskyn. Maar kyk, ‘n trifle soos my Tannie Mercia Coetzee dit gemaak het, was beslis ‘n ‘Christmas Only’ poeding – dit was die mees getrifle-de poeding wat ek ooit geproe het. Ek dink vandag daaraan as die Duisend-En-Een Trifle: dis net die Kersboom wat sy nie daar ingesit het nie. Ek onthou dat saam met die ‘usual suspects’ soos die sponskoek (gewoonlik rolkoek), die jellie, vla, room en neute was daar ook gekookte kondensmelk en Flakes. Baie Flakes. Van alles was daar baie in. Ek het so verby 999 lekkerhede gedelf om by die Flake en die karamel-kondensmelk uit te kom. My poedingbak het binne sekondes soos ‘n Slagveld van Soet gelyk.  Toe al wou ek op Kersdag eerste die poeding eet.

Die eerste resep vir ‘n trifle in sy moderne gelaagde vorm het die eerste keer in 1755 in ‘n Britse resepteboek verskyn. Sy historiese wortels lê in syllabub (‘n versoete room-en wynpoeding), asook vrugte fool (verpulpte vrugte en dik room).  Volgens Helen Saberi, ‘n skrywer van kosgeskiedenis, was  daar selfs ‘n vroeëre trifle resep wat net bestaan het uit room, gegeur met suiker, gemmer en rooswater. Deur die jare, ook hier by ons, het trifle nou nie juis sterstatus op die poedingtrollies van deftige restaurante beklee nie, alhoewel dit altyd ‘n treffer was by die kerk-basaar se poedingtafel. Met die herlewing van nostalgiese geregte en behoefte aan trooskos, beleef trifle ‘n renaissance.

My man Ian maak die toffieskerwe en omdat hy vir my die mooi skilderytjie een jaar vir my verjaarsdag gegee het, maak ek hierdie trifle as my verjaarsdagkoek!

PIESANG-KARAMEL BANOFFEE  EN TOFFIEGLAS TRIFLE

My ma Inez het in die sewentigerjare ‘n yskastert van gekookte kondensmelk, vars piesangs, koekiekrummel-kors en geklitste room gemaak wat ek later jare eers sou uitvind word Banoffee-tert genoem (banana + toffie = banoffie).  Die jellie, vla en

My man Ian gee deesdae hand om van die retro gunsteling ‘n feestelike koekstruif te maak wat met die  tuisgemaakte toffieskerwe te versier. Met die skerwe wat soos brandskilderglas lyk word die banoffee-yskastert (‘banana + toffie) word sommer in ‘n japtrap dramaties en modern.

Banoffee- en toffieglas trifle

Genoeg vir 4-6 mense

 Trifle  

6 eetlepels botter, gesmelt

4 piesangs, in skyfies

Omtrent 10 sjokolade of karamel gedoopte “digestive biscuits”

375 ml (1½ houers) vars room, verkoel en geklits

1 blik karamel kondensmelk

Smelt botter en laat afkoel. Rol beskuitjies fyn en voeg by die gesmelte botter. Die trifle kan in een groot glasbak of in individuele bakkies voorgesit word. Pak ‘n laag krummels, gesnyde piesang, karamel en endig met styfgeklopte room. Steek die skerwe toffieglas deur die roomlaag.

Toffieglas

125 ml (110g) strooisuiker

30 ml Demarara-suiker*

Verhit oond tot 180⁰C. Om die toffieglas te maak, sprinkel strooisuiker op ‘n bakplaat uitgevoer met kleefvrye bakpapier. Sprinkel die Demararasuiker bo-oor en bak vir 25-30 minute of tot die suiker gesmelt het. Laat afkoel. Breek in skerwe.

*         Demararasuiker is goudkleurige suiker met ‘n ryk molasse geur. Gebruik enige geelsuiker of  bruinsuiker.

TE MOOI VIR WOORDE

Over the top trifle – sjampanje, aarbeie, room, meringue en roosjellie: koekstruif met Louboutins aan.

Die feestelikste koekstruif ooit pryk in ons Huiskok Glanskok kookboek: OTTT: ‘over The Top Trifle’.

Sjampanje, aarbeie en room! Drie stappe tot ‘n sjiek koekstruif met Louboutin ontwerperskoene – dis ‘girly’ genoeg  vir ‘n verlowingspartyjie en indrukwekkend genoeg vir die Nuwe Jaar-opskop.  Jy kan dit voorsit aan manne in aandpakke en vroue in ‘n vintage Errol Arendz. Die x-faktor van hierdie fantasie-trifle is die sensuele roosjellie gemaak met pienk vonkelwyn en rosé.  Vir ‘n eksotiese noot is Turkish Delight sjokolade by die room geklits om ‘n sweempie roosgeur aan die pienk fantasie te gee.

Aarbei-room- vonkelwyn trifle

1 sponskoek

500 ml vars room

500g Mascarpone

Sjerrie na smaak

2 pakke vars aarbeie gewas en halveer, hou ‘n paar heel aarbeie eenkant

Paar druppels rooswater* (kan vervang deur Turkish delight sjokolade by die room/mascarpone te klits)

Meringue vormpies

Rosé-vonkelwyn- jellie

800 ml vonkelwyn

400 ml rosé wyn

3 eetlepels gelatien

1 ½ koppie suiker

Maak die jellie die vorige aand.  Verhit rosé wyn en suiker in ‘n klein kastrol tot suiker opgelos het. Verwyder van hitte en laat staan vir 5 minute.  Los die gelatien in ‘n bietjie warm wyn op.  Meng die opgeloste gelatien mengsel met die res van die rosé en voeg die vonkelwyn by.  Plaas in die yskas om te stol en sny in blokkies.

Sny die sponskoek in skywe, plaas in die bodem van glasbak en besprinkel met sjerrie. Pak ‘n laag aarbeie oor die koek en volg met ‘n laag jellie.  Klits die mascarpone met ‘n paar druppels rooswater (of Turkish delight sjokoladestafie) en 250 ml room.  Skep ‘n lagie mascarpone- room oor die jellie. Herhaal die proses. Klits die res van die room styf en skep bo-op die trifle. Plaas meringue vormpies bo-op die room saam met heel aarbeie. Besprinkel met ‘n bietjie versiersuiker.

Trifle wenke

Los die klaargemaakte trifle sowat 5 uur in die yskas voor opdiening. Dit laat die smake ontwikkel en die lae stol.

Boudoir beskuitjies (ladyfingers) is ‘n goeie plaasvervanger vir sponskoek, want dit absorbeer die sjerrie of likeur baie goed en het ‘n neutrale smaak wat nie bots met die ander geure nie. Oorweeg ook amarettie, muffins vir die sponslaag.

Die finale laag van enige trifle is gewoonlik room. Maak jou eie syllabub-room deur  ‘n bietjie suurlemoensap en skil, ‘n skeutjie brandwyn en wyn, asook suiker saam te klits.

Haal so die beste uit room

Klits room in ‘n koue mengbak en klits dit stadig. Die room moet styf genoeg geklop wees om in sagte pieke te kan staan, maar dun genoeg om maklik van die lepel af te gly.

Die sogenaamde pouring cream  of lae-vet room se vetinhoud is te laag om goed styf te klits. Die hoeveelheid bottervet in room bepaal hoe goed dit sal klop en hoe stabiel die room sal wees.

Slagroom met ‘n hoër vetinhoud klop maklik, verdubbel bykans in volume en behou die vorm. Dit het ook ‘n ryker tekstuur en lekkerder smaak.  Dit skif ook nie so gou as dit vir kookdoeleindes gebruik word nie.  Dubbel room (double thick cream) is nie geskik vir klits nie en is sommer een-twee-drie botter.

PENNIE IN DIE POEDING  

 Puriste sal dalk protesteer: ‘n trifle sonder jellie is nie trifle nie; terwyl ‘n ander reken vla en stukkies waatlemoenkonfyt hoort ook daar.  My vriendin Anita Franken, ma van drie en ouma van vier,  is ‘n groot voorstander van die trifle in die tradisie van Kook- en-Geniet. “Kerstyd is ‘n tyd vir kinderverwondering. Ek het groot geword met trifle waarin sikspense weggesteek is. Hierdie Kersfees gaan my kinders en kleinkinders verkies dat ek by tradisie hou, eerder as om met ons gebruiklike Kers-koekstruif te eksperimenteer.  Alles bly dus dieselfde – veral ook die munstukke.

Anita se Pennie-trifle 

 I Switserse rolkoek

1 liter vla

Ingelegde waatlemoenkonfyt in stukkies gekap

Sjerrie

1 pakkie rooi jellie, aangemaak vlgs instruksies

1 pakkie groen jellie, aangemaak vlgs instruksies

3 eetlepels gekapte pekanneute

2 eetlepels gekapte geglasuurde kersies

3 x 250 ml Parmalat vars room, geklop

Hundreds & thousands vir versiering

Soveel R2-stukke soos die aantal gaste*

Groot ronde glasbak

Pak rolkoek skywe onder in die bak en sprinkel sjerrie bo-oor. Die res van die bestanddele word laag vir laag gepak. Herhaal tot alles opgebruik is en eindig met ‘n lekker dik laag room,  versier met hundreds & thousands.

Wenk:

–          laat die munstukke 24 uur in Jik en seepwater lê, skrop goed en spoel baie goed af in kookwater)

–          lig gaste in van die munstukke, dat hulle versigtig kan hap.

KERSIE OP DIE KOEK

Swartwoudkoek is dalk algemeen in Duitsland, maar koekstruif glad nie. Wat gebeur as mens smake uit die een vermeng met die idee van die ander? Jy Kry Swartwoud-koekstruif

Pleks van sjerrie gebruik jy dan schnapps. Die lae vla en geklopte room word vervang met ‘n mengsel van room, mascarpone en maaskaas. Hierdie mengsel verteenwoordig die vars kaas quark (amper iets soos fromage frais wat in Duitsland gebruik word.

Swartwoud trifle

1 sjokolade sponskoek

2 blikke ontpitte swartkersies

6 eetlepels Kirschwasser (kersieschnapps)

250g mascarpone

125 ml vars room

250g laevet maaskaas

2 eetlepels vanielje suiker

100g sjokolade sprinkels

Dreineer die kersies, bedek met die kirschwasser en laat staan vir 1 uur. Sny die sponskoek in stukkies. Meng die mascarpone en die maaskaas goed.  Voeg die vanieljesuiker by en klits.

Klits die helfte van die room by die mascarpone mengsel. Pak ‘n laag van die koek in ‘n glasbak of glase en bedek met ‘n laag kersies. Skep ‘n laag van die mascarpone mengsel oor die kersies.

Skep nog ‘n paar kersies bo-op die room mengsel en versier met  sjokolade sprinkels.